Terreuraanvalle in Indië wyd veroordeel
2011-07-15 08:04
Moembaai – Die Indiese polisie het Donderdag deur forensiese getuienis en opnames van sekerheidskameras gesif vir leidrade oor een van die ergste bomontploffings hier.
Lede van ’n plaaslike militante Islamitiese groep is ondervra. Die aanvalle is die ergste sedert die aanval op die land se finansiële spil in 2008, waarin 166 mense dood is.
Niemand het nog verantwoordelikheid vir die jongste aanvalle aanvaar nie. Agttien mense is dood en 131 beseer toe drie tuisgemaakte bomme feitlik tegelykertyd ontplof het Woensdag tydens die vroegaand-spitstyd.
Wêreldleiers het Donderdag hul woede en afkeur oor die voorval uitgespreek.
Hillary Clinton, Amerika se minister van buitelandse sake, het gesê die aanvalle is “veragtelik” en dat sy voortgaan met haar beplande besoek aan Indië aanstaande week. “Ek glo dis belangriker as ooit dat ons ons by Indië skaar en ons opnuut verbind tot die gesamentlike stryd teen terrorisme.”
Indonesië – die land met die grootste Moslem-bevolking – het ’n koor van afkeer van die Asiatiese Stille Oseaan-gebied gelei.
China het belowe hy sal met sy suidelike buurland saamwerk om terrorisme die hoof te bied, terwyl Brittanje en Frankryk hul steun aan Indië herbevestig het.
Een van die bomme was langs ’n pad versteek, nog een is onder ’n sambreel weggesteek en die derde was op ’n bushalte se dak.
Palaniappan Chidambaram, Indië se minister van binnelandse sake, het gesê dit is te vroeg om vinger te wys. Die “gekoördineerde terreuraanvalle” kan uit weerwraak wees vir verskeie inhegtenisnemings en aanvalle wat onlangs deur die polisie gestuit is, insluitend aanvalle deur die Indiese Mujahideen.
Die Mujahideen is ’n skimagtige binnelandse terreurgroep wat bekend is vir sy stedelike bomveldtogte. Hulle gebruik klein ploftoestelle wat in restaurante, op bushaltes en besige strate skade aanrig. Die groep word ook daarvan beskuldig dat hy bande met militante Pakistanse terreurgroepe het.
Indië en Pakistan probeer hul verhouding ná die vorige aanvalle normaliseer en hul ministers van buitelandse sake vergader later vandeesmaand. Nuwe beskuldigings kan hul betrekkinge verder versuur. – Reuters, Sapa-AFP
- Die Burger