Terreuraanvalle daal met 21% in EU
2011-04-19 23:00
Den Haag - Die getal terroriste-aanvalle in die Europese Unie was verlede jaar 249 – ‘n daling van 21,2%, vergeleke met die vorige jaar, het die Europol-polisieliggaam Dinsdag gesê.
“In 2010 is 249 terroriste-aanvalle in nege lande van die Europese Unie aangemeld,” het Europol in ‘n jaarlikse verslag laat blyk.
Sewe mense is dood in dié aanvalle.
Die meeste van die aanvalle (160) is deur seperatistegroepe uitgevoer. Slegs drie is deur Islamitiese groepe uitgevoer.
Spanje en Frankryk is die twee lande wat die meeste deur terroriste-aanvalle, meestal deur seperatistegroepe, geraak is, met onderskeidelik 90 en 84 aanvalle wat in dié lande plaasgevind het.
“Al het die getal terroriste-aanvalle gedaal, bly die dreigement van hierdie groepe groot,” het die hoof van Europol, Rob Wainwright, in ‘n verklaring gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP