'Terreur-optogte' in Seoel gevrees
2010-10-25 15:55
Seoel - Die polisie in Suid-Korea is op hoë gereedheidsvlak vir "terreuroptogte" wat deur 'n groep voormalige vlootkommandeurs beplan word.
Dié optogte word beplan tydens volgende maand se G20-beraad in Seoel, het die land se polisiehoof gesê.
Cho Hyun-Oh, hoof van die nasionale polisie-agentskap, het gesê meer as 100 veterane van die Underwater Demolition Team (UDT), beplan "baie gewelddadige" betogings om sodoende groter pensioene te eis.
"Ek is bekommerd... Hulle beplan terreuroptogte in die middestad," het hy aan verslaggewers gesê.
Hy het gesê sommige veterane beplan om motors aan die brand te steek en olietenkers naby die plek waar die beraad in suidelike Seoel gehou gaan word, te laat ontplof.
Suid-Korea gaan wêreldleiers, insluitend die Amerikaanse president Barack Obama vir 11 en 12 November gaan huisves.
"Ons sal dit nie duld nie... en ons gaan ferm optree," het Cho gesê.Volg Nuus24 op Twitter
- AFP