Te veel seks, sê Britte
2011-06-06 19:59
Londen – Die Konserwatiewe Party in Brittanje wil
ouderdomsbeperkings op musiekvideo’s toepas om te verhoed dat kinders "te gou
grootword".
Daar’s ‘n groeiende besorgdheid in Brittanje
rondom kinders wat op ‘n baie vroeë ouderdom aan seks-belaaide beeldmateriaal
blootgestel word.
‘n Verslag, wat deur die regering aangevra is,
het voorgestel dat ouers meer beheer moet hê oor wat hul kinders op TV en op die
internet mag kyk.
Die verslag het ook adverteerders en
publiseerders aangemoedig om beelde wat baie seksueel is, nie in direkte sig
van kinders te plaas nie.
Hulle het spesifiek verwys na tydskrifte se
voorblaaie, sowel as advertensieborde wat naby skole is.
Die verslag het ook ‘n beroep op winkels
gedoen om nie "sexy" kinderklere te verkoop nie.
“Die samelewing word oorval met beelde wat
seksueel van aard is,” het die outeur van die verslag, Reg Bailey, hoofbeampte
van Mothers’ Union, gesê.
“Ouers voel dat hulle nie dié beelde kan
ontsnap nie en dat daar al minder en minder plekke is waar kinders bloot
kinders kan wees.”
Die Britse eerste minister, David Cameron, het
die voorstelle verwelkom.
Hy was veral ten gunste van ‘n webblad waar
ouers direk oor TV-programme, advertensies, produkte en dienste kan kla indien
hulle voel dat die inhoud nie geskik is vir kinders nie.
Reguleerders sal dan gedwing word om die
klagtes direk aan te spreek.
Hy het reguleerders en besighede aangemoedig
om aksie te neem en teen Oktober terug te rapporteer.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP