Talle wat ateïste is, laat kind self besluit oor geloof
2011-12-10 07:29
Johannesburg – Tot 17% van ateïste wat kinders het, is betrokke by kerke of geloofsinstellings.
Dié betrokkenheid is toe te skryf aan sosiale of persoonlike redes, het navorsers in die VSA bevind in ’n studie onder 275 mense, wat deel was van ’n groter opname onder navorsers van Amerikaanse universiteite.
Luidens die studie, wat in die Desember-uitgawe van die Journal for the Scientific Study of Religion gepubliseer word, wil baie ateïste ondanks hul eie opvattings hê hul kinders moet self oor geloofsake besluit.
Ander gaan kerk toe omdat hul huweliksmaats daarop aandring.
Nog ’n paar wil deel wees van ’n morele gemeenskap, al stem hulle nie met die groep se geloofsopvattings saam nie.
Volgens Elaine Howard Ecklund, die sosioloog wat die studie gelei het, is dit interessant dat sommige ateïstiese wetenskaplikes gesê dit is juis hul “identiteit as wetenskaplikes” wat hulle noop om hul kinders aan geloofsinstellings bloot te stel.
“Ons het gedink dié mense sou minder geneë wees om hul kinders aan geloofstradisies bloot te stel, maar ons het die teenoorgestelde bevind.
“Hulle wil hê hul kinders moet keuses hê en dit is meer versoenbaar met hul identiteit as wetenskaplikes om hul kinders aan alle bronne van kennis bloot te stel,” het Ecklund gesê.
Een van die deelnemers, wat in ’n streng Rooms-Katolieke huis grootgeword het, het gesê hy het eers later begin glo dat die wetenskap en geloof nie versoenbaar is nie.
Dit is vir hom belangriker om sy dogter te leer om self op ’n deurdagte en intellektuele wyse besluite te neem as om haar daarvan te oortuig dat die twee onversoenbaar is.
“Ek indoktrineer haar nie om in God te glo of nie te glo nie,” het hy gesê.
Hy meen hy kry dit reg deur haar bloot te stel aan verskillende geloofsoortuigings, soos Christenskap, Islam en Boeddhisme.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld