Talle vasgekeer deur sneeu in Bosnië en Herzegowina
2012-02-05 19:02
Sarajewo – Owerhede in Bosnië en Herzegowina het Sondag helikopters ingespan om siekes te ontruim en kos af te lewer aan duisende mense wat afgesny is deur die swaarste sneeuval wat nog ooit in dié land aangeteken is.
Meer as 100 afgeleë dorpe is deur sneeu van meer as twee meter diep afgesny, terwyl sneeu meer as ‘n meter diep gelê het in die hoofstad, Sarajewo.
Drie helikopters het Sondag oor die ooste van die land gevlieg. Kos is afgelaai en mense wat ontruim moes word, is gehelp.
Sarajewo is sedert Vrydagaand lamgelê en owerhede het beveel alle skole moet sluit. Inwoners het hul dienste vrywillig aangebied om sneeu en ys aan die stad se spoorweë te verwyder.
‘n Noodtoestand is Saterdag in die hoofstad aangekondig ná ‘n week van ysige weer, wat reeds talle mense oor Oos-Europa heen geëis het.
Die sneeu het Wes-Europa ook Sondag getref. In Brittanje het swaar sneeuval paaie en spoorweë geaffekteer en sommige vliegtuie kon nie opstyg nie.
Tot 16 sentimeter sneeu het Saterdag oornag geval. Sommige motoriste het die nag in hul motors deurgebring om moeilike toestande op die snelweë te vermy.
Beamptes het motoriste Sondag aangeraai om weg van die ysbedekte paaie te bly.
By Londen se Heathrow-lughawe is ‘n derde van Sondag se vlugte gekanselleer.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP