Talle sterf in aardbewing in Himalaja-streek
2011-09-19 10:00
Gangtok – Minstens 48 mense is dood in ‘n aardbewing wat ‘n groot deel van Nepal, Tibet en die noordoostelike gebied van Indië getref het.
Sondag se aardbewing wat 6.9 gemeet het, het ook kragonderbrekings veroorsaak.
Drie mense is dood toe ‘n muur by die Britse ambassade in Katmandoe, Nepal, ingegee het. Die Nepalese hoofstad is 270 km wes van die episentrum geleë. Altesaam sewe mense het in Nepal gesterf.
Beamptes in die geaffekteerde lande waarsku dat die dodetal verder kan styg.
Skuddings kon meer as 1 000 km ver in Nieu-Delhi, Indië, na die weste in ook in Bangladesj na die ooste gevoel word.
Daar word berig dat minstens 60 mense deur modderstortings, vallende puin en geboue wat in Gangtok inmekaargesak het, beseer is. Gangtok is die hoofstad van Indië se Himalaja-staat Sikkim. AP berig dat 25 mense hier dood is.
Minstens 25 ander mense is in naburige dorpe dood. Die Chinese nuusagentskap Xinhua het berig dat sewe mense in Tibet omgekom het. Vier naskokke het Maandagoggend dié gebied geskud.
“Daar is geen elektrisiteit nie. Almal is uit op die strate,” het C.K. Dahal, ‘n inwoner van Gangtok, aan die televisie-nuuskanaal CNN-IBN gesê.
“Ons het by ons huise uitgehardloop. Sommiges het selfs by hul vensters uitgespring...,” het hy gesê.
AFP berig dat meeste mense gesterf het toe geboue ingegee het. Modderstortings het ook talle lewens geëis.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24