Talle sterf, beseer toe bom in tas buite hof ontplof
2011-09-07 10:08
Nieu-Delhi – Minstens nege mense is dood en 45 ander is gewond toe ‘n bom Woensdagoggend buite ‘n hek wat na die hooggeregshof in Nieu-Delhi lei, onplof het, het beamptes gesê.
Volgens beamptes was die bom in ‘n tas wat by die hek gestaan het.
Die ontploffing is die eerste groot terreuraanval in Indië sedert ‘n reeks bomme op 13 Julie in drie besige buurte in Moembaai ontplof het. Altesaam 20 mense is in die aanvalle dood.
Daar word vermoed dat die Indiese Mujahedeen – ‘n ekstremistiese netwerk – vir die aanvalle in Moembaai verantwoordelik is. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.
Die bom buite die hof het naby ‘n groot groep mense ontplof. Die mense het by ‘n ontvangsarea in ‘n tou gestaan.
Die ontploffing het selfs die hofgebou geruk.
Sanjiv Narula, ‘n prokureur wat binne die gebou was, sê prokureurs en regters het gevlug toe die aanval plaasgevind het.
“Daar was oral rook. Mense het gehardloop. Mense het geskree. Daar was oral bloed. Dit was baie, baie skrikwekkend,” het Sangeeta Sondhi, ‘n ander prokureur, vertel. Sy was besig om haar motor naby die hek te parkeer toe die bom ontplof het.
Mense het na die toneel gehardloop om die beseerdes by te staan en hulle na die hospitaal te neem.
Volgens konst. Sanjay Kumar is die hofgebou ontruim.
“Dit lyk asof die bom in ‘n tas was aangesien ons die oorblyfsels van daardie tas het,” het R.K. Singh, sekretaris van die departement van binnelandse sake, aan CNN-IBN gesê.
Singh het bevestig dat nege mense in die aanval dood is. Altesaam 45 mense is beseer.
Niemand het tot dusver verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP