Talle sterf, beseer in stormloop op veerboot
2011-09-28 10:19
Djakarta – Minstens agt mense is dood en talle beseer toe ‘n stormloop op ‘n vasgemeerde veerboot in die ooste van Java, Indonesië, ontstaan het, het ‘n beampte Woensdag gesê.
Meer as 500 passasiers het paniekbevange geraak toe ‘n vragmotor aan boord die KM Kirana IX oorverhit en aan die brand geslaan het. Die veerboot was by die Tanjung Perak-hawe in Surabaya vasgemeer.
“Die passasiers het gehoor daar is ‘n brand en hulle het almal paniekerig geraak en van die boot af gehardloop,” het Sutopo Purwo Nugroho, hoof van die rampbestuur, gesê.
“Agt mense het gesterf en ander is na ‘n hospitaal geneem.”
Bambang Haryo, eienaar van die veerboot, het aan Metro TV gesê dat ‘n deel van die dek aan die brand was. Hy het bygevoeg dat die brand nie enige ernstige skade veroorsaak nie.
“Ons het die brand vinnig geblus... en die sproeiers dadelik geaktiveer,” het hy gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP