Talle kritiek ná Batman-skietery, sê polisiehoof
2012-07-20 21:03
Kaapstad – Altesaam 71 mense is in ‘n fliekteater in Aurora, Colorado, by ‘n openingsaand van The Dark Knight Rises geskiet.
Dan Oates, polisiehoof van Aurora, het pas op ‘n mediakonferensie bevestig dat 12 mense afgemaai is. Altesaam 59 mense het beserings opgedoen. Hy het bygevoeg dat talle mense in ‘n kritieke toestand is.
Sky News berig New York se polisiedepartement het vroeër gesê die vermeende skieter, James Holmes (24), het sy hare rooi geverf en soos die Batman-flieks se karakter The Joker gelyk.
Oates het nie dié beskrywing bevestig nie. Hy het op die mediakonferensie gesê Holmes het net swart aangehad – ‘n swart helm, baadjie, broek, masker, lies- en keelbeskermer en handskoene.
Die polisiehoof sê die polisie het “byna 'n honderd” oproepe kort ná skietery gekry. Hy sê die polisie was “een tot twee minute later” op die toneel.
Oates kon nie bevestig hoeveel skote afgevuur is nie. Hy het bygevoeg dat geen ander verdagtes op die oomblik gesoek word nie.
Holmes is agter die teater by sy wit Honda in hegtenis geneem. Oates sê hy het vier vuurwapens by hom gehad. Dit is nog nie bekend wanneer hy watter wapen gebruik het nie.
Volgens die polisiehoof is byna 200 mense reeds in verband met die voorval ondervra.
Mediabronne het vroeër berig lokvalle is by Holmes se huis in Aurora gevind. Oates het die lokvalle bevestig en gesê dit kan “ure tot dae” neem om toegang tot die woning te kry. Hy het dit as ‘n “baie moeilike” taak beskryf.
Jim Yacone, ‘n agent van die FBI, het op die mediakonferensie gesê hy sien geen “bande met terrorisme” nie.
Die burgemeester van Aurora, Steve Hogan, het gesê dis ‘n “tragiese dag” vir die gemeenskap en die stad.
Sky News het die mediakonferensie regstreeks uitgesaai.
Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24