Talle gered ná veerboot sink
2012-02-03 09:04
Sydney – Altesaam 238 oorlewendes is al gevind nadat ’n veerboot gister aan die kus van Papoea-Nieu-Guinee gesink het.
Die MV Rabaul Queen het sowat 16km van Finschhafen gesink terwyl dit van die eiland Kimbe na Lae, dié eilandnasie se tweede grootste stad, onderweg was.
Daar was na raming 300 tot 350 mense aan boord van die boot, maar die eienaars van die 47m lange tuig, Rabaul Shipping, moes nog met die relevante dokumente na vore kom, het me. Nerae Mari Mahu van die land se maritieme reddingskoördinasiesentrum gesê. Sy het berigte bevestig dat talle van die passasiers studente of onderwysers was.
Die Chinese nuusagentskap Xinhua het berig dat ’n Chinese skip 29 mense uit die see opgepik het.
Die reddingsentrum maak staat op die logistiek van die Australiese owerheid vir mariene veiligheid vir die koördinasie van die reddingspoging.
Volgens die owerheid is agt skepe en drie helikopters op die toneel. Australiese vliegtuie het reddingsvlotte in die see laat sak.
Die owerheid het vroeëre berigte oor goeie weer verwerp en gesê daar is tans sterk winde van 40 knope.
– Sapa-DPA
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger