Talle dakloos in grootste vloed in Peru
2012-04-12 08:00
Kaapstad – Groot dele van die Amasone-reënwoud in die noorde van Peru se grootste stad is onder water weens die grootste vloed in die opgetekende geskiedenis.
“Die somermaande in Peru se Andesgebergte was vuurwarm en het veroorsaak dat gletsers op groot skaal smelt,” het dr. Paul Beaver, ’n Amerikaanse bioloog, verduidelik.
Hy en sy vrou, Dolly, wat van die omgewing kom, werk saam met plaaslike gemeenskappe aan ’n toerismeprojek.
Die Amasonerivier het sy ontstaan in die stroompies wat van die hoë Andes spoel, en die gesamentlike watermassa het vir ’n rekordvloed gesorg.
“Dit is die hoogste wat die vlak van die Amasonerivier tot nog toe was in die stad Iquitos, wat sowat 130 jaar oud is,” het Beaver gesê.
“Van die bome by ons lodge in die oerwoud het vloedmerke van vorige jare. Sommige van hierdie bome is honderde jare oud, en die nuwe vloedmerke is omtrent 2 m bo die vorige hoogste merk.”
Die laagliggende gebiede van die oerwoudgebied, waar Iquitos geleë is, is onder water. Die massas water en hitte veroorsaak dat meer verdamping plaasvind, wat beteken dit reën ook meer as gewoonlik.
Sowat 100 000 mense in die stad is dakloos gelaat, en talle inwoners van nedersettings in die oerwoud aan die walle van die Amasone en sy sytakke bly op vlotte wat hulle aan hul huise se dakke vasgemaak het sodat hulle nie wegspoel nie, het Beaver gesê.
Sy vrou is tans in die oerwoud om te kyk waar sy van hulp kan wees en hy het nog nie hierdie week kontak gehad met haar nie.
Geen lewensverlies is tot dusver aangemeld nie, maar al die nedersettings in die westelike Amasone-gebied is nog nie bereik nie. Skole, universiteite en ander staatsinstellings in Iquitos is gesluit en as blyplek vir die dakloses ingerig, het die Peruaanse media berig.
Die natuur word die minste geraak deur die vloede.
“Die vis versprei oor die oerwoudvloer waar daar nou baie kos vir hulle is. Dit beteken die vispopulasie sal toeneem en dit sal kos voorsien aan ander diere hoër op in die voedselketting,” het Beaver gesê. “Boonop is die meeste Amasone-diere boomklimmers.”
Die somer in die Andes is nog nie verby nie en die reënseisoen in die Amasone sal nog sowat ’n maand duur. “Die vloed is dus nog nie verby nie,” het Beaver gesê.
“Die water het weke lank teen 1 cm tot 2 cm per uur gestyg, en dit het nog nie opgehou nie.”
- Die Burger