Talle bied hulp aan Haïti
2010-01-13 14:03
Berlyn - Duitsland het Woensdag hulp en bystand aan Haïti beloof nadat ’n verwoestende aardbewing laat Dinsdagaand die land getref het.
Duitsland het ‘n rampeenheid bekendgestel wat so gou as moontlik in Haïti opgestel sal word.
"Ek is geskok oor die grootte van die ramp," het Guido Westerwelle, minister van buitelandse sake per telefoon aan hul land se ambassadeur in Haïti gesê.
Intussen het Amerika, Frankryk, Kanada en regerings in Suid-Amerika ook hulle hulp aan die verpletterde land aangebied.
Barack Obama, die president van Amerika het gesê sy regering “staan reg om die mense van Haïti te help”, het die Withuis gesê.
In Miami het die Amerikaanse kuswag gesê hulle mobiliseer vliegtuie en toerusting, indien hulp benodig word.
Die Brasiliaanse president, Luiz Inacio Lula da Silva het gesê hy is “baie bekommerd” oor die huidige omstandighede in Haïti, inlsuitend die lot van sowat 1200 Brasiliaanse lede van die Verenigde Nasies se vredesmag in Haïti (Minustah) wat gelei word deur Brasilië.
'n Minustah-werknemer het gesê hul hoofkwartiere is byna heeltemal deur die aardbewing verwoes.
Die Verenigde Nasies se Wêreldvoedingsprogram (WFP) gaan ook twee vliegtuie met voedsel na Haïti toe stuur om die oorlewendes by te staan.
Die dodetal is op die stadium nog nie bekend nie, maar Beeld berig dit staan op sowat 30 000.
- Sapa-dpa en AFP