Talle beseer in aardbewing in Turkye
2012-06-14 21:04
Istanboel – Tientalle mense is beseer toe ‘n matige aardbewing Donderdag die suidooste van Turkye geruk het.
Die minaret van ‘n moskee is in een stad afgeruk en verskeie geboue is beskadig.
Die aardbewing, wat 5,5 gemeet het, het die Sirnak-provinsie om 05:52 GMT getref, het die Kandilli Observatorium gesê. Dit is die tweede aardbewing in minder as ‘n week in Turkye.
Drie-en-twintig mense is beseer, maar meeste van hulle het slegs ligte beserings opgedoen, het ‘n verklaring deur die kantoor van die goewerneur van Sirnak gesê.
Volgens die verklaring is 25 geboue beskadig, het die Anatolia-nuusagentskap berig.
In die stad Sirnak is die minaret van ‘n moskee afgeruk.
Plaaslike inwoners het ook krake in geboue gerapporteer, wat daartoe gelei het dat amptenare mense waarsku om weg te bly van beskadigde huise te midde waarskuwings van moontlike naskokke.
‘n Aardbewing wat 6.0 gemeet het, het Sondag ‘n toeriste-oord op die suidwestelike kus geruk en tientalle mense is gehospitaliseer nadat hulle uit vrees by geboue uitgespring het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP