Talle Duitsers gekant teen pous se besoek
2011-09-24 08:06
Berlyn – Duitsers wat gekant is teen pous Benedictus XVI se konserwatiewe menings oor seksualiteit en kwaad is oor gevalle van priesters se seksuele teistering van seuns, het Vrydag hier teen sy vierdaagse besoek betoog.
Die Duitsgebore pous het voor sy landing gesê hy verstaan hoekom “dié misdade party mense ontstig” en rekordgetalle die Rooms-Katolieke Kerk verlaat het.
Hy het met Bybelse beeldspraak verwys na Jesus as visserman en gesê: “Die kerk is ’n net vir die Here wat goeie vis en slegte vis intrek.”
Ondanks die 84-jarige pous se woorde word talle betogers hier verwag voor sy toespraak in die Bundestag (die Duitse parlement) en ’n mis in die Olimpiese Stadion.
“Hoekom is hy na die parlement genooi? Hy het niks te doen met politiek nie. Sy beleid oor kondome is so te sê moord,” het Markus Schuke van ’n vigswelsynsgroep gesê.
’n Rekordgetal van 181 000 mense in Duitsland het die Rooms-Katolieke Kerk verlede jaar verlaat.
Sowat 100 lede van die Bundestag beplan om die pous se toespraak te boikot omdat dit die skeiding van kerk en staat in die gedrang bring. – Reuters
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger