Taliban wys nuwe leier aan
2009-08-22 14:51
Peshawar, Pakistan - Die Pakistanse Taliban het die opvolger aangekondig van hul voormalige leier Baitullah Mehsud, het Taliban-bevelvoerders gesê.
Amerikaanse en Pakistanse amptenare glo Mehsud is vroeër dié maand oorlede in ‘n missielaanval op ‘n huis waar hy na vermoede geskuil het in die wettelose Waziristan-distrik aan die grens van Afganistan.
Taliban-bevelvoerders het aangevoer dat Mehsud die aanval oorleef het, en dat hy net ernstig siek was.
Die voormalige onderwyser Maulvi Faqir Mohammad, wat onlangs aangekondig het dat hy oorgeneem het as tussentydse leier van die organisasie, het gesê ‘n Taliban-raad het die aanstelling gemaak.
"’n Taliban-raad het eenparig besluit om Hakimullah Mehsud as Baitullah Mehsud se opvolger aan te wys," het hy per telefoon aan die AFP-nuusagentskap gesê.
"Die raadsvergadering het twee dae lank geduur en is bygewoon deur 22 lede," het hy gesê.
Inwoners en intelligensiebeamptes in Khar, die hoofdorp in die Bajaur-distrik, waar Mohammad gebaseer is, het gesê die Taliban-leier het die nuus van Hakimullah's se aanstelling oor sy onwettige radiostasie bekend gemaak.
"Die raad het Hakimullah as Baitullah Mehsud se opvolger aangewys. Die raad het my as die waarnemende hoof aangestel, maar nou gaan ek weer die onderleier wees," het Mohammad volgens ‘n intelligensiebeampte oor die radio gesê.
Hakimullah is volgens berigte ‘n magtige bevelvoerder wat in die Orakzai-distrik werksaam is, waar die VSA al verskeie missielaanvalle geloods het.
- SAPA