Taliban teiken nog skole in Pakistan
2013-02-28 13:21
Peshawar – Vermeende Taliban-militante het Donderdag bomaanvalle by vier seunsskole in die noordweste van Pakistan uitgevoer, het beamptes gesê.
Dié aanvalle is die jongste in 'n rots soortgelyke aksies wat op die regering se onderwysinstellings gemik is.
Niemand is beseer in die ontploffings nie. Al die aanvalle is voor sonsopkoms in die Mohmand-stamstreek uitgevoer.
Beamptes het bevestig dat aanvalle deur die Taliban reeds 100 skole in dié gebied in puin gelê het.
“Vegters van die Tehreek-e-Taliban Mohmand (TTM) het omstreeks 02:30 (21:30 GMT) die geboue van vier skole opgeblaas,” het ‘n beampte in Mohmand aan AFP gesê.
Liagat Ali, ‘n regeringsbeampte, het die aanval bevestig en het aan AFP gesê soldate het bomme geplant wat plaaslik vervaardig is.
“Al vier skole is geheel en al in puin gelê; altesaam 100 skole is reeds in Mohmand geteiken,” het Ali gesê.
Islamitiese militante, wat daarteen gekant is dat seuns en meisies saam onderrig word, het in onlangse jare honderde skole, meestal meisieskole, in die noordweste van Pakistan opgeblaas.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP