Taliban-slagoffer na top-militêre hospitaal vervoer
2012-10-11 18:04
Islamabad – Die 14-jarige skoolmeisie, wat deur die Taliban in Pakistan geskiet is, is Donderdag na die land se top-militêre hospitaal vir spesialisbehandeling geneem.
Sy is steeds in 'n kritieke toestand, het beamptes gesê.
Malala Yousafzai, wat 'n aktivis is vir meisies se regte op onderwys in Pakistan, is Dinsdag geskiet toe sy van die skool op pad was huis toe.
Owerhede het intussen 'n beloning van meer as $100,000 (sowat R865 000) aangebied vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisname van die gewapende mans.
Twee van Yousafzai se skoolvriende is ook beseer. Vrae het ontstaan oor hoe die aanval gebeur het en hoe die skuldiges net kon wegloop, in 'n omgewing waar die polisie en weermag se teenwoordigheid sigbaar is.
"Sy benodig nou versorging na haar operasie. Die dokters het aanbeveel dat die AFIC (Armed Forces Institute of Cardiology) het beter fasiliteite vir die versorging," het maj. genl. Asim Saleem Bajwa, 'n militêre woordvoerder, aan AFP gesê.
'n Ander beampte het later bevestig sy het met behulp van 'n helikopter in Rawalpindi aangekom.
Volgens Bajwa is Yousafzai nie by haar volle bewussyn nie en dat die volgende 24 uur uiters belangrik gaan wees.
Sy het Woensdag 'n operasie ondergaan om die koeël uit haar kop te verwyder.
"Sy is vir twee dae op 'n asemhalingsmasjien geplaas. Die koeël het 'n gedeelte van die brein geaffekteer, maar daar is 'n 70% kans dat sy sal oorleef," het een van haar dokters, Mumtaz Khan, aan AFP gesê.
Mehmoodul Hasan, een van Yousafzai se familielede, het gesê die familie is ingelig dat dokters die mediese verslae oorsee gaan stuur vir advies.
"Hulle is besig om vas te stel of beter fasiliteite in die Verenigde Koninkryk of Dubai beskikbaar is of enige ander land. Hulle sal dan besluit of hulle haar oorsee gaan stuur, anders gaan hulle haar hier behandel," het Hasan gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP