Taliban-leier in Pakistan vasgetrek
2010-02-23 12:04
Islamabad – ‘n Senior Afgaanse Taliban-leier is in Pakistan gevang, het die Amerikaanse media Dinsdag berig.
Dit is die vierde aanhouding van senior lede van dié groep wat in die laaste paar weke gemaak is.
Mullah Abdul Kabir, ‘n lid van die weermag se beheerraad, is ‘n paar dae gelede in Nowshera in Pakistan se noordweste vasgetrek, het berigte in die New York Times en Washington Post gelui.
Amptenare van Pakistan het geweier om die berigte aan die Associated Press te bevestig.
Hulle het bevestig dat die inhegtenisname ‘n verdere teken kan wees dat Pakistan wegdraai van hulle ou strategie waaronder hulle Afgaanse Taliban-leiers ‘n veilige hawe gebied het in die land.
Dit kan verreikende gevolge hê vir die Amerikaans-gedrewe oorlog in Afganistan.
Pakistanse en Amerikaanse amptenare het verlede week gesê dat die nommer twee Afgaanse Taliban-leier, Mullah Abdul Ghani Baradar in Karachi in die suide van Pakistan vasgetrek is.
- Sapa-AP