Taliban betoog in Pakistan
2011-05-09 16:55
Pesjawar – Honderde Taliban-lede het Maandag in ‘n Pakistanse dorp betoog en die Al-Kaïda-leier Osama bin Laden se dood veroordeel.
Volgens plaaslike beamptes het die lede gesê hulle sal wraak neem nadat Amerikaanse troepe Bin Laden in Abbottabad, Pakistan, doodgeskiet het.
Die betogers, wat in die dorp Wana bymekaar gekom het, het Pakistan en die VSA veroordeel. Daar word berig dat meer as 500 mense bymekaar gekom het.
Meeste van die betogers is ondersteuners of lede van Maulvi Nazir, 'n Pakistanse Taliban-bevelvoerder, se groep wat ook die Taliban in Afganistan ondersteun, het beamptes aan AFP gesê.
Volgens die beamptes het ‘n paar plaaslike inwoners ook aan die betoging deelgeneem.
“Osama bin Laden was ons leier. Ons is sy volgelinge en ons sal voortduur om sy beweging na te streef,” het Maulvi Ibrahim, ‘n geestelike, by die byeenkoms gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP