Taliban-aanval eis 3 in Afganistan
2011-10-01 16:57
Kunduz, Afganistan – Drie Afgaanse polisiebeamptes is Saterdag gedood en hul bevelvoerder gewond in 'n aanval deur die Taliban in die noorde van Afganistan, het 'n beampte gesê.
"Bevelvoerder Juma Khan, hoof van die grenspolisie van die Dasht-e-Archi-distrik (in die Kunduz-provinsie), is Saterdag om 06:30 deur gewapende Taliban-lede in 'n hinderlaag gelei terwyl hulle in die gebied op patrollie was," het Shaikh Sadruddin, distriksgoewerneur van Dasht-e-Archi, gesê.
"'n Gewapende botsing van meer as drie ure... het tot die dood van drie polisiebeamptes gelei, en die bevelvoerder self is gewond," het die goewerneur gesê.
"Daarbenewens is Mullah Mansoor, 'n top- Taliban-bevelvoerder in die provinsie en twee van sy manne ook in die botsing dood," het Sadruddin bygevoeg.
'n Verklaring deur die ministerie van binnelandse sake het Mansoor se dood bevestig.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA