Taliban: Pakistan-aanval was vir Bin Laden
2011-05-13 08:56
Islamabad – Minstens 80 mense is dood toe twee selfmoordbomme naby ‘n paramilitêre opleidingsentrum in Shabqadar, Pakistan, ontplof het. Meeste van die oorledenes was rekrute.
Die Taliban het Vrydag verantwoordelikheid vir die dodelike aanval aanvaar. Volgens die groep was die aanval bedoel om wraak vir Osama bin Laden se dood te neem.
“Hierdie aanval is uitgevoer om wraak te neem vir die martelaarskap van Osama vin Laden en die gruweldade wat deur Pakistanse magte uitgevoer is,” het Ihsanullah Ihsan, ‘n woordvoerder vir Tehrik-e-Taliban Pakistan, gesê.
Tehrik-e-Taliban is ‘n sambreelgroep van meer as 12 militante groepe.
“Ons waarsku mense dat hulle nie hul kinders moet toelaat om by die Pakistanse weermag en paramilitêre magte aan te sluit nie, want ons beplan nog aanvalle teen hulle...”
Ihsan het bygevoeg dat die groep binnekort “groter aanvalle op veiligheidsmagte” sal uitvoer.
“Ons veiligheidsmagte is nou bondgenote met die Amerikaner,” het Ihsan aan die Duitse nuusagentskap dpa via ‘n telefoononderhoud gesê.
Twee selfmoordbomaanvallers het vroeg Vrydagoggend die rekrute geteiken.
Daar word berig dat meer as 100 mense tydens die aanval beseer is.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA