Taliban: 'Ons leier is nie dood nie'
2011-07-20 19:19
Kaboel – Die Taliban het Woensdag ontken hul leier, Mullah Mohammad Omar, is dood ná vervalste boodskappe oor sy dood glo vanaf selfone waartoe toegang van buite die beweging gekry is, aan die media gestuur is.
Mullah Omar, die Afgaanse Taliban se eenoogleier, is een van die wêreld se mees gesoekte mense en dit is nie die eerste keer dat sy dood gerapporteer word nie.
“Dit is die werk van die Amerikaanse intelligensiediens,” het die Taliban se woordvoerder, Zabihullah Mujahid, gesê. “Ons sal wraak op die telefoondiensverskaffers neem.”
Die Taliban sal nou die manier waarop hy met behulp van selfone nuus versprei hersien, het ‘n ander woordvoerder, Qari Yousuf, gesê.
Die oorspronklike boodskappe is vanaf Mujahid en Yousuf se selfone gestuur.
“Ons leier Mullah Mohammad Omar Mujahid het gesterf,” het die boodskap gelui. “Mag Allah hom seën.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters