Taiwan wil vrugbaarheidsbehandeling subsidieer
2010-10-03 13:15
Taipei - Taiwan gaan vrugbaarheidsbehandeling vir paartjies subsidieer in 'n poging om die land se dalende geboortesyfers op te stoot.
'n Plan word deur die Departement van Binnelandse Sake oorweeg om jaarlikse subsidies van soveel as R 33 000 vir vrugbaarheidsbehandeling te betaal, het Apple Daily uit Taipei berig.
Verlede jaar is 191 310 babas in Taiwan gebore, 3,74% minder as die vorige jaar. Die gemiddelde geboortesyfer vir elke vrou het na 1.03 geval.
Die Taiwanese regering is bekommerd oor 'n tekort aan mannekrag wat sosiale en ekonomiese probleme tot gevolg kan hê en wil paartjies met die subsidies aanmoedig om ouers te word.
In Taipei, waar daar in 2009 slegs 20 000 babas gebore is, sal paartjies van volgende jaar af 20 000 Taiwanse dollars vir elke baba betaal word.
- SAPA