Swerm voëls tref Qantas-vlug
2011-09-23 23:02
Perth – ‘n Qantas-vliegtuig het Vrydag veilig in Perth geland nadat dit in ‘n swerm voëls vasgevlieg het.
Die lugredery het ontken dat vlamme by een van die vliegtuig se enjins uitgeskiet het, soos wat sommige ooggetuies beweer het.
Volgens Qantas het die Airbus A330 met 273 passasiers en bemanningslede om 11:50 uit Perth na Melbourne vertrek om kort daarna om te draai en by dieselfde lughawe om 12:41 te land.
“Dit was ‘n swerm voëls. ‘n Normale omdraai in die lug. 'n Normale landing,” het ‘n Qantas-woordvoerder gesê en bygevoeg daar was “geen vuur, nul vlamme”.
“Hulle het net ‘n standaard omdraai gedoen,” het sy gesê en bygevoeg die vliegtuig sal vir skade nagegaan word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP