Sweedse seun (10) verwurg vierjarige
2011-12-14 21:18
Stockholm – Die polisie in Swede sê hulle het die moord op 'n vierjarige kind opgelos en bevind dat hy deur 'n tienjarige seun verwurg was.
Die voorval het twee maande gelede in die Sweedse dorpie Ljungby gebeur.
'n Intensiewe ondersoek is gedoen en onderhoude is met ongeveer 30 leerders tussen die ouderdomme van vyf en vyftien gevoer.
Daar is bevind dat die vierjarige seun met 'n tou verwurg is.
Hy is aanvanklik as vermis aangemeld maar sy liggaam is later in 'n woud naby 'n speelgrond gevind.
Owerhede van die departement van maatskaplike dienste het gesê die tienjarige seun is tans op 'n veilige plek aangehou. Geen verdere besonderhede oor die saak of wat aanleiding tot die voorval gegee het is nog bekendgemaak nie.
Die seuns is nie familie van mekaar nie, het Robert Loeffel, 'n polisiewoordvoerder aan 'n radiostasie gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA