Sweedse jeugdiges val polisie aan
2011-08-17 13:04
Stockholm – Die Sweedse polisie sê onrus het oornag in die land se tweede grootste stad, Goteborg, voorgekom toe jeugdiges talle polisiebeamptes met klippe en petrolbomme bestook het.
Volgens die polisie is niemand ernstig beseer in die aanvalle nie. Minstens twee polisiebeamptes het gesê hul oë het gebrand nadat laserligte op hulle geskyn is.
Dit is nie onmiddellik duidelik wat die oproerigheid veroorsaak het nie, maar die polisie sê twee mense is Dinsdagaand net voor middernag weens vandalisme in hegtenis geneem is.
Die polisie is van mening dat dié inhegtenisnemings die geweld kon uitlok.
Die jeugdiges het skade aan twee polisievoertuie gerig en ‘n ander motor aan die brand gesteek.
Lars-Gunnar Gustafsson, ‘n polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê dat niemand in verband met die oproerigheid vasgetrek is nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP