Swak boumateriaal dra by tot grootkaalse verwoesting
2010-01-18 20:17
Port-au-Prince - Beton en staal van ‘n swak gehalte verduidelik die omvang van verwoesting wat tydens die aarbewing in Haïti gesaai is.
Dit is volgens ‘n span van die Emergency Architects Foundation wat die afgelope drie dae in Port-au-Prince spandeer het.
Patrick Coulombel en Serge Guno, beide argitekte, sê hulle het altesaam 30 geboue struktureel ondersoek om vas te stel hoe veilig die geboue is om in te woon.
‘n Primêre skool is goedgekeur en kon as ‘n tydelik hospitaal ingerig word, maar ‘n hotel waarin ‘n hele klomp joernaliste bly, is as ongeskik verklaar.
“Ons vrees nabewings,” het Coulombel meegedeel.
Hy het bygevoeg dat die boumateriaal van meeste geboue wat inmekaargeval het, van ‘n lae gehalte was.
Dieselfde tel ook vir die geboue wat nou as ongeskik beskou word.
“Om geld te spaar, het bouers slegte staal en min sement gebruik,” het hy gesê.
“Die meng van beton is ook ‘n baie tegniese en moeilike proses wat die plaaslike bouers nie kon regkry nie.”
- Sapa