Suurkool laat verkeer stilstaan
2012-02-08 09:00
Frankfurt – Hope suurkool het Dinsdag uit ’n vragmotor op ’n besige Duitse hoofweg gestort en vinnig aan die blad van die autobahn vasgevries.
In die oggendspitsverkeer naby Frankfurt het dit ’n enorme verkeersopeenhoping veroorsaak, het die stad se polisie gesê.
’n Vragmotor met ’n besending van honderde pakkies van die wêreldberoemde Duitse gepekelde kool-lekkerny het kort voor sonsopkoms in die westelike dorp Friedberg naby Frankfurt in ’n ander voertuig vasgery en sy inhoud oor die pad laat spat.
Met temperature ver onder vriespunt die afgelope week het die suurkool feitlik onmiddellik gevries en ’n moeilik oorkombare struikelblok gevorm.
Verkeer het so ver as 10 km opeengehoop.
Die hoofweg is vir vier uur gesluit terwyl die owerhede gesukkel het om die bevrore suurkool op te ruim.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters