Suide van Indië onder water
2012-11-01 07:26
Chennai – Swaar reën het oorstromings in laagliggende gebiede veroorsaak en sowat 100 000 mense moes ontruim word ná 'n verwoestende tropiese sikloon die suide van Indië getref het.
Minstens ses sterftes is al in Indië en Sri Lanka gerapporteer.
'n Olietenkskip met 37 bemanningslede het Woensdag kort voor die sikloon die land bereik het, naby Chennai gestrand. Een van die reddingsbote het omgeslaan, en 'n bemanningslid het verdrink, het die Press Trust of India-nuusagentskap berig. Die kuswag soek steeds na ses ander vermiste bemanningslede.
Twee mense is ook in afsonderlike voorvalle in die Andhra Pradesh-staat dood toe hulle huise Woensdagaand weens die swaar reën inmekaargestort het. 'n Ander slagoffer, 'n 46-jarige man, is in die Tamil Nadu-staat dood toe hy gegly het en in die see beland het.
Twee mense is ook in Sri Lanka dood weens die sikloon.
Die storm, wat in die Baai van Bengal ontstaan het, het winde van tot 75 km/h veroorsaak. Laagliggende kusgebiede is deur vloedwater oorstroom, het die Indiese Meteorologiese Departement gesê.
Swaar reën sal na verwagting ook Donderdag val, en vissermanne is gevra om liefs nie op die see uit te gaan nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA