Suid-Koreaanse weermag skiet op passassiersvliegtuig
2011-06-18 17:52
Seoel – Seesoldate het met vuurwapens op 'n Suid-Koreaanse passassiersvliegtuig geskiet terwyl dit geland het ná hulle dit aangesien het vir 'n Noord-Koreaanse militêre vliegtuig, het 'n verteenwoordiger van 'n lugredery en 'n nuusberig Saterdag gesê.
Die insident het Vrydag douvoordag plaasgevind, het die Yonhap-nuusagentskap berig.
Die vliegtuig van Asiana Airlines, met 119 mense aan boord, is nie in die voorval beskadig nie en geen passassiers is beseer nie.
Dié insident beklemtoon weer die vlak van spanning op die swaar bewapende inter-Koreaanse grens. Die Koreaanse skiereiland is tegnies sedert die Koreaanse Oorlog in 1953 beëindig is, op gereedheidsgrondslag, omdat 'n vredesooreenkoms nooit geteken is nie.
Suid-Korea se departement van verdediging kon die voorval nie bevestig nie.
'n Amptenaar van Asiana het per telefoon bevestig dat seesoldate met handgewere op een van die vliegtuie uit China geskiet het, en dat daar geen skade was nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AP