Suid-Korea: Diktator se dogter wil president word
2012-07-10 09:45
Seoul – Park Geun-Hye, die dogter van 'n voormalige Suid-Koreaanse diktator, Park Chung-Hee, het Dinsdag amptelik aangekondig dat sy gaan poog om die land se eerste vroulike president te word.
Daar word algemeen verwag dat Park die regerende konserwatiewe New Frontier-party se kandidaat sal wees vir volgende maand se verkiesing.
"Ek sal alles toewy aan die Republiek van Korea (Suid-Korea) en verseker dat dit 'n land bly waarin almal hul drome kan bereik," het sy in 'n toespraak gesê.
Park, nou 60 jaar oud, was in 2007 amper dié konserwatiewe se kandidaat, maar het naelskraap teen Lee Myung-Bak, wat daarna as president aangestel is, verloor.
Volgens die grondwet mag Myung-Bak nie weer aan ‘n verkiesing deelneem nie.
Park sê sy sal streef vir 'n billike en deursigtige mark-ekonomie en sal haar beywer vir "ekonomiese demokratisering" te midde van 'n groeiende inkomstegaping in Asië se vierde grootste ekonomie.
Sy het ook beloof om welsynsprogramme uit te brei, en om die gespanne verhouding met Noord-Korea te verlig.
– Volg ons op Twitter
- AFP