Studie toon kriminele gedrag in kleuters
2009-11-17 00:09
Washington – Kinders wat nie ‘n natuurlike reaksie van vrees toon nie is meer geneig om kriminele dade te pleeg wanneer hulle groot word, het ‘n studie getoon wat Maandag in die Amerikaanse Joernaal van Psigiatrie gepubliseer is.
Navorsers het die “vrees kondisionering” van sowat 1 800 driejariges geassesseer deur velaktiwiteit, soos die uitskeiding van sweet, wat deel is van die refleks van vrees, te meet.
Dit is gedoen nadat die kinders skrikgemaak is deur ‘n vinnige, harde, onaangename klank of ‘n neutrale klank.
Die navorsers het 20 jaar later na die amptelike hof-rekords van die deelnemers gekyk.
Daar is gevind dat 137 van die deelnemers teen die ouderdom van 23 ernstige kriminele dade gepleeg het. Nie een van dié wat as volwassene ‘n kriminele rekord gehad het, het op die ouderdom van drie ‘n normale vrees-reaksie getoon nie.
Deelnemers wat nié teen die ouderdom van 23 kriminele dade gepleeg het nie, het aan die ander kant ‘n normale vrees-reaksie getoon na die harde, onaangename geluide toe hulle kleuters was.
“Die bevindinge van hierdie studie skep potensiaal ondersteuning vir ‘n neuro-ontwikkelingsteorie van antisosiale en kriminele gedrag,” is daar geskryf.
- Sapa-AFP