Studentebetogings in Chili duur voort
2011-08-10 10:11
Santiago – Die Chileense polisie moes Dinsdag traangas en
waterkanonne gebruik om ‘n handvol gewelddadige betogers in ‘n andersins vreedsame
studentedemonstrasie in die hoofstad onder beheer te kry.
Tienduisende onderwysers, student, ouers en simpatieke arbeidsaktiviste
het vir die vyfde keer in twee maande in Santiago betoog vir hervormings van
die konserwatiewe regering van pres. Sebastian Pinera.
Volgens die polisie het sowat 60 000 mense aan die opmars
deelgeneem. Organiseerders het die getal op sowat 100 000 beraam.
Skoliere wil hê die staat moet die openbare skoolstelsel, waarin
90% van die land se 3.5 miljoen student geskool word, oorneem. Dit word tans
deur plaaslike owerhede bestuur, wat volgens die betogers diep ongelykhede
veroorsaak.
Chilli het die hoogste per capita inkomste in
Latyns-Amerika, maar sy inkomste-ongelykheid is ook die hoogste.
Studente betoog ook vir meer bekostigbare hoër onderwys. Die
meeste Chileense universiteitstudente neem lenings uit om privaatuniversiteite
by te woon omdat publieke universiteite min en onderbefonds is.
“Ek betoog want ek het twee kinders en ek kan nie hul onderwys
bekostig nie.Hulle gaan vir jare in die skuld wees wanneer hulle universiteit
toe gaan,” het Graciela Hernandez, een van die betogers, gesê.
Die vreedsame protesoptog is ontwrig toe ‘n groep jongmense die
polisie naby die presidensiële paleis, La Moneda, met stokke en klippe begin
bestook het. Sommige het straatligte en vensters gebreek en ‘n motor aan die
brand gesteek.
“Die regering luister nie na ons nie. Ons wil ‘n nuwe
onderwysstelsel in Chili hê en die regeringsvoorstelle spreek nie ons behoeftes
aan nie,” het Manuel soto, ‘n betoger van die Universiteit van Santiago, gesê.
“Die betogings sal
aanhou … tot die regering vir ons beter onderwys gee.”
Dinsdag se betoging is deur die polisie goedgekeur, anders
as verlede Donderdag se betogings toe meer as 800 mense in hegtenis geneem is.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP