Student vergoed vir pornografie
2010-01-11 13:44
Beijing – ‘n Student by ‘n kollege in China, wat sê sy studies het begin ly onder sy liefde vir internet-pornografie, is met $1466 (sowat R11 000) vergoed nadat hy polisie gehelp het in hul veldtog teen seksuele inhoud op die web.
Die student, wie se naam nie bekend gemaak is nie, het 32 webblaaie met pornografiese materiaal aangemeld en ‘n landswye kompetisie, wat internet-gebruikers aangemoedig het om pornografie op die web op te spoor, gewen.
Die regering behou streng sensorskap oor inhoud op die web, insluitende pornografie en geweld, wat as ongesonde inhoud gesien word. Dit staan bekend as die “Great Firewall of China”.
Amptenare het belonings vir internet-gebruikers wat pornografiese webblaaie aanmeld, gebied.
“Op skool het ek goeie uitslae ontvang wat my toelating tot ‘n goeie universiteit sou gee maar as gevolg van die invloed van pornografie kon ek slegs na ‘n kollege gaan,” het die student gesê.
In die eerste maande van dié veldtog is sowat 62 000 webblaaie aangemeld. Owerhede het in 2009 ook sowat 5000 oortreders in hegtenis geneem.
- Sapa