Streisand-neef nie welkom in Israel
2011-02-03 22:00
Jerusalem - Israel het ‘n immigrasie-aansoek van die Amerikaanse, Joodse sangeres Barbra Streisand se neef van die hand gewys omdat hy glo bande met Christelike sendelinge het, het die Haaretz-koerant Donderdag berig.
Volgens die koerant het die kwasi-regeringsliggaam die Joodse Agentskap, wat die eerste ontvangers van immigrasie-aansoeke in dié land is, twyfel gehad oor die 57-jarige Dale Streisand en sy aansoek na die ministerie van binnelandse sake verwys.
Dié het sy aansoek afgekeur.
‘n Woordvoerder van die Joodse Agentskap, Michael Yankelovitz, het bevestig Streisand se aansoek is van die hand gewys, maar wou nie besonderhede gee nie.
Onder die Wet van Terugkering mag Jode van oor die wêreld heen burgers van Israel word en aansporingslone van die regering ontvang. Die wet verbied egter enigiemand wat “betrokke is by aktiwiteite wat teen die Joodse mense gemik is”.
Streisand het gesê hy moes hoor sy aansoek is afgekeur omdat hy glo dat Jesus die Joodse messias is, aangesien daar ‘n skakel na ‘n sendeling-webwerf op sy Faceboek-profiel was.
Hy het egter gesê dié skakel is bloot deur ‘n vriend na hom gestuur en dit het geen invloed op sy lewe nie. Hy het gesê hy het hom tot Ortodokse Judaïsme bekeer.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP