Strauss-Kahn, vrou glo nie meer saam
2012-06-29 17:02
Parys – Dominique Strauss-Kahn, voormalige hoof van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), en sy vrou, Anne Sinclair, se huwelik van die afgelope 20 jaar is op die rotse, het 'n Franse tydskrif Vrydag berig.
Volgens die skindertydskrif Closer het Sinclair, 'n joernalis, Strauss-Kahn 'n maand gelede gevra om hul huis in sentraal Parys te verlaat.
Strauss-Kahn wat glo "verpletter" en depressief" was nadat Sinclair hom die trekpas gegee het, woon nou in 'n woonstel in Parys.
Sinclair (63) moet nog kommentaar lewer oor die verbrokkeling van hul huwelik. Strauss-Kahn se prokureurs was ook nie onmiddellik vir kommentaar beskikbaar nie.
Dié berig kom nadat Strauss-Kahn (63) meer as 'n jaar gelede in New York in hegtenis geneem is nadat hy glo 'n hotelwerker verkrag het.
Dié skandaal het veroorsaak dat hy sy bedanking as hoof van die IMF ingedien het.
Amerikaanse staatsaanklaers het later die kriminele klagtes teen hom laat vaar.
Intussen het Franse staatsaanklaers 'n voorlopige ondersoek van stapel gestuur oor bewerings dat Strauss-Kahn by 'n bendeverkragting in Amerika betrek word.
Staatsaanklaers in Lille, waar Strauss-Kahn, en drie ander teregstaan op bewerings dat hulle betrokke was by 'n prostitusie-kartel, het gesê die ondersoek spruit uit 'n voorval "wat as 'n bendeverkragting beskryf kan word" wat in Desember 2010 in Washington plaasgevind het.
Strauss-Kahn, twee sakemanne en 'n polisiehoof is weens 'n prostitusie skandaal in die noordelike Franse stad Lille aangekla.
Sinclair het die afgelope jaar by Strauss-Kahn gestaan.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA