Strauss-Kahn nie meer vervolg
2011-10-20 07:00
Den Haag – ’n Franse skrywer wat beweer het Dominique Strauss-Kahn, gewese hoof van die Internasionale Monetêre Fonds, het haar in 2003 in Parys probeer verkrag, gaan die saak nie verder voer nie.
Al het Strauss-Kahn dade teenoor Tristane Banon erken wat op seksuele aanranding neerkom, het die Franse vervolgingsgesag bekend gemaak die saak het verjaar. In Frankryk verjaar seksuele aanranding reeds ná drie jaar.
Die Franse wet bepaal egter Banon kan haar saak ook regstreeks aan ’n regter voorlê.
Sy het nou besluit om dit nie te doen nie.
Daar is egter nie net goeie nuus vir Strauss-Kahn nie. Die Franse koerante France Soir en Le Journal du Dimanche het vandeesweek berig hy het verlede jaar en vanjaar prostitute uit Frankryk na New York laat kom om daar aan ’n seksorgie met hom deel te neem. Strauss-Kahn het dit verontwaardig ontken.
’n Paar dae ná die laaste beweerde orgie, in Mei vanjaar, het die New Yorkse polisie hom in hegtenis geneem op aanklag dat hy die vrou wat sy hotelkamer sou skoonmaak, verkrag het.
Strauss-Kahn het erken dat hy seks met die vrou gehad het, maar ontken dat dit teen haar sin was.
Die vrou is later op verskeie leuens betrap en die aanklaer het die saak toe teruggetrek.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger