'Straf Sirië swaarder'
2012-01-19 08:01
Beiroet – Brittanje het Woensdag ’n beroep gedoen vir verskerpte sanksies teen die Siriese regering.
Dit volg nadat ’n waarnemerspan van die Arabiese Bond nie daarin kon slaag om die bloedvergieting te stop in die tien maande lange opstand teen pres. Bashar al-Assad nie.
Die waarnemers se mandaat verstryk Donderdag, maar Sirië kan moontlik toelaat dat die waarnemers langer in die land aanbly.
Assad se teenstanders sê die vredespogings van die Arabiese Bond het misluk en die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies (VN) moet ingryp.
Die Britse premier, David Cameron, het Iran en die Libanese Hizbollah-beweging daarvan beskuldig dat hulle Assad ondersteun. Cameron het Assad “’n ellendige tiran” genoem.
“Brittanje moet die voortou neem om seker te maak dat sanksies teen Sirië, reisbeperkings en die bevriesing van bates verskerp word,” het Cameron Donderdag in die Britse parlement gesê.
Die ministers van buitelandse sake van die Europese Unie (EU) sal Maandag op ’n vergadering bykomende EU-sanksies teen Sirië bespreek.
Honderde mense aan beide kante van die Siriese konflik is dood sedert die Arabiese Bond verlede maand waarnemers na Damaskus gestuur het om vas te stel of die regering voldoen aan ’n vredesplan wat hy op 2 November aanvaar het.
’n Bron by die Arabiese Bond het gesê die regering kan die waarnemers se besoek met ’n maand verleng, maar sal nie instem dat hul mandaat uitgebrei word nie.
Die VN het op 13 Desember gesê Assad se veiligheidsmagte het sedert die opstand in middel Maart begin het meer as 5 000 mense doodgemaak.
“Ons vra dat die kwessie na die VN se Veiligheidsraad verwys word en dat die internasionale gemeenskap ingryp, omdat hulle, eerder as ons Arabiese broers, daartoe in staat is om Siriërs te beskerm,” het Riad al-Asaad van die Free Syrian Army-rebellebeweging gesê.
Die bron het gesê China en Rusland, wat vroeër optrede deur die Veiligheidsraad gefnuik het, het Assad aangeraai om die waarnemers te laat aanbly.
– Volg Nuus24 op Twitter.
– Reuters
- Die Burger