VSA: Stormskade tot R432 miljard
2012-11-02 09:16
Washington – Skade van die verwoestende storm wat die ooskus van die Verenigde State getref en New York-stad lamgelê het, kan tot $50 miljard (R432 miljard) beloop, maar die impak op die breër ekonomie sal minimaal wees, het ekonome gesê.
Die grootste deel van die skade sal deur New York gedra word – waar die skade in laagliggende laer Manhattan steeds toeneem.
Die superstorm, wat New Jersey laat Maandagaand getref het, het die lewe van minstens 92 mense in 15 state geëis.
Die winde en vloedwater het huise verwoes, kragonderbrekings veroorsaak en openbare vervoer tot stilstand geruk.
Die Amerikaanse versekeringsmaatskappy Eqecat het gesê die fisieke skade kan tussen $30 miljard (sowat R259 miljard) en $50 miljard (sowat R432 miljard) beloop en versekerde verliese kan tussen $10 miljard (sowat R86 miljard) en $20 miljard (sowat R172 miljard) beloop.
Eqecat het gesê hy het die geraamde syfers aangepas omdat die verliese in New York en New Jersey nog nie bekend is nie.
"Dit is moontlik dat Sandy se versekerde verliese meer en groter kan wees as enigiets wat ons sedert orkaan Katrina gesien het," het David Smith, senior adjunk-president van Eqecat, gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA