Storm oor ‘borsvoeding is grillerig’
2010-07-05 10:00
Beeld
Die mening van ’n babatydskrif se adjunkredakteur dat borsvoeding “grillerig” is, het wêreldwyd opslae gemaak.
Kathryn Blundell, adjunkredakteur van die Australiese Mother and Baby, het in ’n artikel getiteld “I formula-fed. So what?” gesê sy het gekies om haar baba te bottelvoed omdat sy haar borste, oftewel haar fun bags, as deel van haar seksualiteit beskou.
“Om jou klein, onskuldige baba aan dít te sien gryp wat net ’n liefdesmaat voorheen hanteer het, voel, wel, ’n bietjie grillerig,” sê Blundell in dié artikel.
Sy skryf nadat sy aan haar kind geboorte gegee het, wou sy so gou moontlik weer haar lyf terughê – “en ’n bietjie wyn”.
“En ek wou my borste ten minste ’n kans gee om op my bors te bly eerder as om op my maag te hang.”
Blundell het gesê selfs die wete dat borsvoeding ’n baba se immuniteit versterk en die baba se kans verminder om borskanker en allergieë te kry, kon haar nie oortuig “om my tepel in ’n skreeuende baba se mond te druk nie”.
Die artikel het ’n hewige internetdebat ontketen en ’n Facebook-groep, Mother and Baby Magazine – Please support breastfeeding, is selfs deur lede van die webtuiste www.lactivist. net gestig om die tydskrif te vra om borsvoeding beter te ondersteun.
Lede van die groep sê die artikel is onverantwoordelik omdat dit borsvoeding in ’n negatiewe lig plaas.
“Selfs al is dit humoristies geskryf, kan dit ’n negatiewe uitwerking hê op ’n nuwe ma wat dalk weerloos voel ná haar baba se geboorte en wat dalk met borsvoeding sukkel,” het een vrou op ’n forum op die webwerf www.mumsnet.com gesê.
“Deur van haar borste as ‘fun bags’ te praat laat sy dit klink of die baba slegs ’n ongerief is – die arme baba,” het nog iemand op The Midwife Sanctuary se webwerf gesê.
Miranda Levy, die tydskrif se redakteur, het gesê Mother and Baby ondersteun wél borsvoeding, dat Blundell se artikel oor haar persoonlike ervaring gaan en dat dit wel ’n plek in die debat het.
“Baie mense het ons gekontak om ons geluk te wens met Blundell se ‘verfrissende’ artikel,” het sy gesê.
“Daar is baie vroue wat sukkel om te borsvoed en die artikel het hulle meer normaal laat voel.”
Te midde van die omstredenheid het Blundell haar mening oor borsvoeding in ’n berig op die webtuiste www.askamum.co. uk verdedig deur te sê sy het die artikel geskryf “om ’n stem te gee aan die duisende vroue wat eenvoudig nie wil borsvoed nie en gevolglik skuldig en vervreemd voel omdat borsvoedende ma’s hulle dikwels veroordeel”.
- Volg Nuus24 op Twitter.