Stewige tjek ná man walvis-braaksel optel
2013-01-31 16:33
Fotogalery - Walvis beland in getypoel in Sydney
klik op klein foto bo om groter prentjie te sien
Londen – ‘n Britse man is £50 000 (R453 000) aangebied vir ‘n stuk "klip" wat sy hond op ‘n strand gevind het, het die BBC Donderdag berig.
Dié "klip" was toe eintlik 'n seldsame soort walvis-braaksel wat in die vervaardiging van parfuum gebruik word.
Ken Wilman het met sy hond, Madge, in die kusdorp Morecambe in die noordooste van Engeland gestap toe sy aan ‘n redelike groot klip begin snuffel het. Die klip het ‘n wasagtige tekstuur en gelerige kleur gehad.
Wilman het dit eers op die strand gelos, maar hy het later teruggegaan om die klip op te tel. Hy het begin vermoed dit is ‘n stuk ambergrys, ‘n stof wat in die verteringstelsel van spermaceti-walvisse gevind word.
Walvisse gooi soms ambergrys op, wat dan op die oppervlak van die water dryf. Dit word in die vervaardiging van parfuum gebruik weens die muskus-reuk wat dit kry soos dit verouder. Nuwe ambergrys ruik onaangenaam.
“Toe ek dit optel en daaraan ruik, het ek dit teruggesit en gedink ‘sies’,” het Wilman aan die BBC gesê.
“Dit het ‘n muskus-reuk, maar hoe meer jy dit ruik, hoe lekkerder word die reuk.”
Hy wag vir finale toetse om te bevestig of dit wel ambergrys is, maar hy sê ‘n Franse handelaar het R453 000 daarvoor aangebied.
“Dit is soveel werd as gevolg van die spesifieke eienskappe,” het Andrew Kitchener, hoofkurator van werweldiere by die Nasionale Museum van Skotland, aan die uitsaaier gesê.
Dit is ‘n baie belangrike basis vir parfuum en dit is moeilik om enige namaaksel daarvoor te vind.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP