Steve Jobs sterf
2011-10-06 06:29
San Francisco – Steve Jobs, die medestigter van Apple-rekenaars, het ná 'n stryd met kanker, "vreedsaam" gesterf, het sy familie in 'n verklaring gesê.
Hy was 56 jaar oud.
Die familie het diegene wat hulle die afgelope jaar bygestaan het, bedank.
"Steve het vandag (Woensdag), omring deur sy familie, vreedsaam gesterf," lui die verklaring van sy familie.
"In sy openbare lewe was Steve bekend as 'n visionêr; in sy privaatlewe het hy sy familie gekoester."
Hy is in 2004 met kanker gediagnoseer en ‘n gewas is van sy pankreas verwyder, het Nuus24 vroeër berig.
Met Jobs as hoof het die maatskappy onder andere die Macintosh-tafelrekenaar, die iPod-musiekspeler, die slim iPhone en die iPad-tabletrekenaar op die rakke gesit.
Jobs het vroeër vanjaar uitgetree.
Hy word oorleef deur sy vrou, Laurene, en hul vier kinders. Hy het ook 'n dogter uit 'n vorige verhouding.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP