Steun vir pous se besluit in VSA
2013-02-11 17:58
Washington – Die Amerikaanse Raad van Rooms-Katolieke Biskoppe het pous Benedictus XVI se verrassende besluit om sy amp neer te lê, verwelkom as "nog 'n teken van sy goeie sorg vir die Kerk."
"Ons is hartseer dat hy aftree maar ons is dankbaar vir sy agt jaar van onbaatsugtige leierskap as opvolger van St Petrus," het kardinaal Timothy Dolan van New York, president van die raad, gesê.
"Sy uittrede is net nog 'n teken van sy goeie sorg vir die Kerk," het Dolan in 'n verklaring namens die biskoppe gesê.
'n Woordvoerder van die Vatikaan het vroeër gesê die pous se bedanking was 'n "verrassing".
Dit kom ná die 85-jarige leier van die Rooms-Katolieke Kerk Maandagoggend tydens 'n byeenkoms van kardinale aangekondig het dat hy sy amp neerlê.
“Die pous het aangekondig dat hy sy posisie teen 19:00 op 28 Februarie sal verlaat,” het Federico Lombardi, woordvoerder vir die Vatikaan, gesê.
Lombardi het gesê die pous se besluit het die Vatikaan verras, en het bygevoeg dat sy ywer “ongelukkig die afgelope tyd afgeneem het.”
Die pous het tydens die byeenkoms van kardinale gesê dat hy die besluit geneem het ná 'n lang periode van selfondersoek.
“Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat my krag, as gevolg van my gevorderde ouderdom, my nie toelaat om... my bediening voldoende uit te voer nie,” het die pous gesê.
Hy het die verklaring in die Vatikaan se amptelike taal, Latyns, voorgelees.
“Ek is deeglik bewus daarvan dat hierdie bediening, as gevolg van die noodsaaklike en geestelike aard daarvan, nie net met woorde en dade uitgevoer moet word nie, maar ook met gebed en lyding.”
Georg Ratzinger, die pous se broer, het aan Sky News gesê dat sy broer se dokter aanbeveel het dat hy nie meer oorseese reise aanpak nie. Hy het gesê sy broer het sy bedanking maande lank oorweeg.
Hy het bygevoeg dat sy broer sukkel om te loop en dat sy bedanking ‘n “natuurlike proses” is.
“Sy ouderdom haal hom in,” het die 89-jarige oor Benedictus XVI gesê.
“Op hierdie ouderdom soek my broer meer rus.”
Lombardi het intussen bevestig dat die volgende pous voor Paasfees gekies behoort te word.
Mario Monti, die premier van Italië, het gesê dat hy geskok is deur die pous se bedanking.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA