Sterk skudding eis 13 lewens
2011-07-21 08:05
Osh – ’n Kragtige aardbewing het Woensdag 13 lewens in Oesbekistan geëis en verskeie geboue in Sentraal-Asië se digbevolkte Ferghana-vallei vernietig.
Inwoners aan albei kante van die grens tussen Kirgistan en Oesbekistan het ’n volgehoue, gewelddadige skudding in die vroeë oggendure gevoel.
Volgens die Oesbeekse ministerie belas met noodgevalle is 86 mense weens beserings behandel en 35 na die hospitaal gebring. In Tadjikistan is ’n man dood nadat hy by ’n venster uitgespring het.
Die Amerikaanse geologiese opname het gesê die aardbewing van 6,1 op die Richterskaal se episentrum was 18 km ondergronds en 42 km suidwes van Ferghana, ’n stad in die ooste naby die grens met Kirgistan.
Die Ferghana-vallei strek oor drie lande se grense en is ’n strategies dog geologies onstabiele gebied. Die vallei is bekend om katoen- en syproduksie, asook okkerneute. – Reuters
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad