Sterk aardbewing ruk Solomon-eilande
2013-02-06 08:25
Solomon-eilande – ‘n Reuse-aardbewing wat 8,0 gemeet het, het die seebodem naby die Solomon-eilande geruk en ‘n klein tsoenami veroorsaak.
Verskeie huise is glo vernietig en 'n onbekende aantal mense is dood, het Sky News berig.
Die aardbewing se middelpunt was volgens die Amerikaanse Geologiese Opname naby die Santa Cruz-eilande, teen ‘n diepte van 5,8 km.
Twee kragtige naskokke van 6,4 en 6,6 is ook gemeet.
Inwoners van Honiara, die hoofstad van die Solomon-eilande, het gesê die skudding is nie daar gevoel nie. Daar was egter erge skade aan drie dorpies na aan die kus, het Augustine Bilve, ‘n gesondheidsamptenaar, gesê.
Talle inwoners het glo na hoër grond gevlug.
AP het berig dat minstens vier mense dood is, maar dat die dodetal heel moontlik sal styg.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters