Sterftesyfer styg ná brand by tehuis
2011-11-21 12:15
Sydney – ‘n Sewende bejaarde het gesterf ná ’n brand by ‘n tehuis in Sydney, Australië, het die polisie gesê.
Die 82-jarige slagoffer het Maandagoggend in ‘n hospitaal noord van Sydney gesterf – drie dae nadat ‘n brand in die Quakers Hill-tehuis uitgebreek het.
Talle bejaardes was beseer en sommiges is steeds in ‘n kritieke toestand.
Die polisie het die naweek bevestig dat ‘n personeellid van die tehuis verantwoordelik is vir die brand.
Roger Dean (35), ‘n verpleër by die sorgeenheid, staan tereg op vier aanklagte van moord weens die verdagte brand. Volgens die polisie word verdere aanklagte verwag.
‘n Gedenkdiens sal Woensdag vir die slagoffers gehou word. Dean sal Donderdag in ‘n hof verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP