Stamlede ontvoer 300 soldate in Jemen
2011-11-21 14:22
Sanaa – Gewapende opposisie-stamlede het minstens 300 Jemenitiese soldate ontvoer tydens gewelddadige botsings waarin sewe stamlede dood is, het die opposisie-media berig.
Stamlede van die Arhab-distrik in die hoofstad, Sanaa, het ‘n kamp van die elite Republikeinse wagte oorgeneem ná militêre konfrontasies wat talle maande geduur het.
Daar word berig dat minstens 40 stamlede in die botsings beseer is. Talle soldate is doodgeskiet en verskeie ander het gevlug, het die webtuiste Mareb Press berig.
Die Republikeinse wagte word deur pres. Ali Abdullah Saleh se seun, Ahmed, gelei.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA