Staking verlam vlugte van en na Frankfurt
2012-02-17 07:00
Den Haag – Sowat die helfte van alle vlugte na en van die lughawe van Frankfurt in Duitsland is gekanselleer weens die staking van grondpersoneel Donderdag en Vrydag.
Frankfurt is die grootste lughawe in Duitsland, waar verreweg die meeste interkontinentale vlugte aankom en vertrek. Dit dien ook as oorstap- vliegveld vir verdere vlugte na en van ander Europese bestemmings.
Die personeel wat staak, is dié wat sorg dat vliegtuie wat land en opstyg tussen die aanloopbane en vasmeerplekke beweeg. Daar is slegs 200 van hulle, maar sonder hulle is alle vliegverkeer verlam.
Gister is tussen 15:00 en 22:00 gestaak, juis die tyd dat baie interkontinentale vlugte vertrek het. Vandag word tussen 08:00 en 22:00 gestaak, met die gevolg dat sowel vlugte wat vertrek en land geraak word.
Die stakers eis hoër lone.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger