Staking ruk Qantas se sak
2011-10-29 16:53
Kaapstad – Die Australiese lugdiens Qantas se besluit om ál sy vliegtuie weens 'n staking op die grond te hou, gaan hom sowat 20 miljoen Australiese dollar (sowat R165 miljoen) per dag kos.
Qantas het vroeër vandag aangekondig dat daar voorlopig geen plaaslike of internasionale vlugte sal wees nie.
Dié drastiese stap volg ná 'n uitgerekte staking deur onder andere vlieëniers en ingenieurs, wat Qantas reeds 70 miljoen Australiese dollar (bykans R580 miljoen) skade laat ly het, het RSG berig.
Die lugredery, wat na 208 bestemmings in 46 lande vlieg, het in dié jaar tot die einde van Junie 2011 44,5 miljoen passasiers vervoer.
Intussen het Air France een uit elke vyf vlugte gekanselleer en gewaarsku teen groter ontwrigtings, te midde van 'n besige vakansie-naweek. Dít is weens 'n staking van vyf dae deur kajuitpersoneel wat vandag begin.
1 November is 'n vakansiedag in Frankryk en baie mense het Maandag af geneem om 'n langnaweek te geniet. Thierry Mariani, Franse minister van vervoer, het die staking oor 'n langnaweek gekritiseer.
Volg Nuus24 op Twitter